Die veiligheid van ons studente: ‘n Suid-Afrikaanse perspektief
Professor Ian Nell (Stellenbosch Universiteit, Departement Praktiese Teologie en Missiologie) las het boek van Beatrice de Graaf, ‘Heilige Strijd: het verlangen naar veiligheid en het Einde van het kwaad’. Hij brengt in dit artikel haar concept van veiligheid in verband met de Zuid-Afrikaanse context, met name aan de theologische faculteit van Stellenbosch Universiteit.
… (it) is only when we translate our own wounds in the language of strangers and retranslate the wounds of strangers into our own language that healing and reconciliation can take place… (Richard Kearney)
Ek het die lees van Beatrice De Graaf se boek Heilige Strijd: Het verlange naar veiligheid en het einde van de kwaad baie1 interessant en insiggewend gevind. Daar is verskeie temas in haar boek waar ‘n mens direkte aansluitingspunte met ons Suid-Afrikaanse konteks kan vind. Ek het veral die hoofstuk oor “historisch veiligheidsdenke” (hoofdstuk 7) besonder interessant gevind en het myself afgevra hoe ek van haar konsepte in gesprek sou kon bring met ons konteks in Suid-Afrika?
Gegewe my posisie as ‘n dosent aan die Fakulteit Teologie van Stellenbosch Universiteit, het dit my laat nadink oor die veiligheid van ons studente. Ek gaan in hierdie bydrae poog om iets van die vrese, uitdagings en soeke na veiligheid van baie van ons studente, veral dié uit minder bevoorregte agtergronde, in die kollig te plaas2..
Violent space
Gedurende die nag van 4 April 2016 het daar ‘n drama in die kleine in die gange van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch afgespeel. In die vroeë oggendure het studente die klas foto’s van vorige jare se studente in die gange van die gebou afgehaal, op die grond gesit en op sommige plekke geherrangskik. Teen die mure waar die foto’s was, is plakkate aangebring met die volgende uitdrukkings: “Black pain – White gender men – Violent space – Non-representation – Lack of transformation”.
Die dekaan het die volgende dag ‘n e-pos van ‘n groep studente ontvang wat hulself as die “Black Theologians Collective” bekend gestel het. Die e-pos is aan al die kollegas gestuur en ek haal daaruit aan:
As the Black Theologians Collective, we want to make it clear that we have come together as Black students because we are tired of this place’s attempt to silence the Black Poor Voice. The Theology Faculty of the University of Stellenbosch through the Dutch Reformed Church still harbours Apartheid memorabilia in the Name of God, through practices and physical material. We understand that Apartheid was a point of privilege for White people only, but it was a pinnacle point of horror and it is still to this day, as we see it in the fact that Black people are still socially, economically and psychologically abused by White people and White Systems.
In geen onduidelike taal druk hierdie studente hul ervaring van die Fakulteit Teologie uit as ‘n plek waar hulle nie tuiskom nie, waar hulle ervaar dat hulle nie ‘behoort’ nie en waar hulle dus onveilig voel. As gevolg van die “memorabilia”, wat nie net uitdrukking vind in die fisiese voorkoms en inhoud van die gebou nie3, maar volgens hulle ook deur sekere praktyke versterk word, is hul ervaring dat hulle sosiaal, ekonomies en fisies uitgesluit word en daarom ‘n gebrek aan veiligheid in hierdie ruimte ervaar.
In empiriese navorsing wat ek in 2016 saam met kollegas uit vyf ander fakulteite gedoen het, is hierdie gevoelens en ervarings van uitsluiting, van nie behoort nie en van onveilig voel onder ons teologie studente en selfs sommige dosente bevestig.
Die ervaring en optrede van die studente laat die kollig val op ‘n paar vrae wat verdere besinning en nadenke vereis. Vrae soos: Wat sit agter die studente se ervaring van onveiligheid? Wat is van die vrese wat die studente ervaar? Waarom ervaar hulle hierdie ruimtes onveilig en wat kan ons daaruit leer en wat kan en behoort ons te doen om dit vir hulle ‘n veilige ruimte te maak?
Dubbele lading van veiligheid
Voordat ons aan dié vrae aandag skenk, wil ek eers aansluit by De Graaf (2017: pagina 72-73) se opmerkings oor veiligheid wat volgens haar in die eerste plek gaan oor ‘n gevoel (ons voel ons veilig) en tweedens oor ‘n staat van wees4. Dit is inderdaad ‘n dubbele lading wat die konsep dra met aan die een kant ‘n “gewenste stand van sake” en aan die ander kant die kognitief en emosionele kant daarvan. Ek hou van haar definisie: “Je zou ‘veiligheid’ kunnen omschrijven als een intersubjectief proces met als resultaat een geanticipeerde toestand van schadeloosheid in de toekomst” (2017:73). Dit sê dus iets oor ons hoop en waar ons ons redding, beskerming en heil van verwag.
Met dit in gedagte, is daar gewis ‘n hele paar uitdagings wat voor ons lê om van die Fakulteit Teologie ‘n gasvrye ruimte te maak waar studente veilig voel. Dit is die geval omdat die nalatenskap van apartheid juis ‘n hele groep van hierdie studente onveilig laat voel. Ons kan verskeie hindernisse onderskei wat hierdie studente moet oorkom. Die eerste hou met taal verband, vir baie is die Afrikaans en Engels wat in die gange gepraat word ‘n tweede of selfs ‘n derde taal wat beteken dat baie studente se vrymoedigheid om te kommunikeer, geïnhibeer word. Tweedens hou dit met hulle agtergrond verband. Baie van hierdie studente is die eerste in hulle familie wat aan ‘n Universiteit studeer en kom hulle dikwels oor lang afstande om te kom studeer wat beteken dat hulle ver weg van hul ondersteuning-strukture is. Heelwat van ons studente is byvoorbeeld vanaf die Oos-Kaap, ‘n duisend kilometer van die Wes-Kaap. Derdens is daar natuurlik die gewone hindernisse van ‘n gebrek aan fondse, die geweldige uitdaging om in ‘n baie duur Universiteitsdorp behuising te bekom en die afwesigheid van rolmodelle.
Simboliese uitsluiting
Baie van hierdie hindernisse kan egter oorkom word, maar wat heelwat moeiliker om te oorkom is wat ek “simboliese uitsluiting” wil noem. Die ervaring dat hulle stemme stil gemaak word deur wat hulle “Apartheid memorabilia” noem en daarmee saam die ervaring van “abuse by white people and white systems, black pain – white gender men – violent space – non-representation – lack of transformation”, wat alles op die kognitiewe en emosionele vlak lê waarna De Graaf verwys. Dit vra dat daar op ‘n dieper vlak na die sistemiese en simboliese ongeregtigheid onderliggend aan hierdie ervarings aandag geskenk moet word.
Veel is al oor die afgelope jare in die verband gedoen, waaronder transformasie-indabas5, klas gesprekke, “courageous conversations”, massa vergaderings, aandag aan personeel aanstellings, die totstandkoming van die NSFAS-beurs skema (National Student Financial Aid Scheme), die verwydering van die “apartheid memorabilia” en allerlei ondersteuningstrukture vanuit die Dekaan se kantoor. Maar dalk6 is die belangrikste waaraan ons as dosente aandag behoort te skenk, die persoonlike belangstelling in elke student. Om met aandag na hulle te luister en saam met hulle na maniere te soek om die belangrikste hindernisse te oorkom, om ‘n ruimte te skep7 waar hulle ervaar dat hulle gehoor word. Op hierdie manier kan verskeie van die studente se besware in verband met “simboliese uitsluiting” aangespreek word, vertroue herwin word en saam na konkrete oplossings gesoek word.
1 baie = veel, zeer.
2 in die kollig plaas = in de schijnwerpers zetten.
3 niet net…nie = niet alleen (Het Afrikaans heeft een ontkenning met twee woorden: nie…nie).
4 wees = zijn.
5 indaba: bijeenkomst of ontmoeting van mensen. Deze term is afkomstig van Xhosa en Zoeloe. “We have given these the African name of indaba groups, groups where in traditional African culture, people get together to sort out the problems that affect them all, where everyone has a voice and where there is an attempt to find a common mind or a common story that everyone is able to tell when they go away from it. This is how we approached it. This is what we heard. This is where we arrived as we prayed and thought and talked together.” (Aartsbisschop Rowan Williams – tijdens de Lambeth Conference in 2008).
6 dalk = misschien.
7 Vgl. Nell, I. 2016. South African must create safe spaces where anger and hatred can be heard. In: The Conversation, September 27, 2016.